Vroeg op universiteit het Christian en Annette al vir mekaar geval en het hy haar voete onder haar uit geslaan. Hulle het dit net nie geweet nie.
Dit was tydens hulle eerste dans en albei het op die grond beland! Annette het wel gedink sy het hard genoeg geval om heeltemal daarvan te vergeet, maar dit moes ‘n groot genoeg merk gelos het om haar jare later (nadat hulle eintlik al bietjie van mekaar vergeet het) te kon oortuig om Christian se metgesel vir ‘n troue te wees. En so kon hulle nie net hulle eerste dans oor hê nie, maar ook hulle storie begin…
Kort nadat Annette na Parys verhuis het, het Christian sy eerste probeerslag in gesit om haar geselskap weer in sy lewe te kry en hy nooi haar vir ‘n troue. Ongelukkig sonder sukses en sy wys hom van die hand. Christian is steeds onseker of dit was omdat sy reeds na haar beste vriendin se troue sou gaan of dalk omdat hy haar eers 3dae voor die troue gevra het. Ons sal seker nooit weet nie.
Gelukkig leer Christian soms uit sy foute. Kort daarna is daar weer ‘n geleentheid om haar as ‘n metgesel saam nooi, maar dié keer maak hy seker en vra haar meer as ‘n maand vooruit. Sy kon nie anders as om in te stem nie. Hoewel nie een vreeslike verwagtinge gehad het nie, was die geselskap en danspassies oneindigend.
Na ‘n maand van hier en daar gesels en heen-en-weer kuier, het dié 2 'n morsige hindernisbaan saam aan gedurf en besef daar is moeilikheid - die koeël is klaar deur die kerk.
'Ons menswees en harte werk net saam.'
Die lewe saam is ‘n absolute avontuur. Een wat ons nie wil hê moet eindig nie.