Een aand laat in kamer een op die eerste vloer in Veritas Manskoshuis, het 18 jarige Jo-Ané haarself bevind. Haar oefenmaat, Grobbies, het haar deur die koshuis geneem om al sy vriende te ontmoet. Gelukkig was Dup ook een van sy vriende.
Dup aan die ander kant, het net ń paar uur voor die groot ontmoeting met sy toekomstige vrou, sy verstandtande laat uithaal. Hy was bedleënd en kon dus nie eers opstaan vir ń drukkie nie. Jo-Ané het toe agter die man se rug ingekruip vir ń foto wat gestuur is aan ń kennis van beide. Hierdie was die begin van ń baie goeie en diep vriendskap.
Die vriendskap het jaar na jaar versterk. Van saam braai, mekaar na dinees vergesel tot saam vakansie hou. Hulle het al hoe nader aan mekaar begin leef, en was onafskeidbaar. Die liefde was duidelik sigbaar, maar net vir die buitestanders.
Die liefde het begin blom in 2021. Op ń plaas net buite Frankfort was hul liefde aan mekaar verklaar. Dit het 5 jaar geneem vir die waardevolle vriendskap om in ń romantiese verhouding met onvoorwaardelike liefde te verander.
Dit was ń groot risiko om die belangrike vriendskap op te offer vir meer.
Na die eerste jaar saam in Potchefstroom,waar hulle die lewe saam kon lééf en ervaar, het hul onderskeie loopbane tydelik ń paar duisend kilometers tussen hulle gelaat. Gelukkig was die liefde en toewyding aan mekaar genoeg om in hierdie langafstand-verhouding mekaar net beter te leer ken -en te verstaan.
Die risiko was toe die moeite werd! Op 5 Oktober gaan Johan du Plessis en Jo-Ané van Dyk voor God,familie -en vriende die huwelik betree. Van beste vriende na eggenote,tot die dood hul skei.