Ons storie begin nie te lank terug nie, alhoewel dit lankal deur ons Vader se verbeelding geskryf is. Hierdie is nie jou tipiese “boy meets girl” liefdesverhaal nie. Dit is ‘n verhaal van eenheid gevorm in gesamentlike eensaamheid en geluk gevind in gedeelde seer.
Voor ons paaie gekruis het was albei gekonfronteer met dieselfde vrae: “Wat is my doel?” en “Is ek bedoel om iemand se lewe met hulle te deel?”. Die frustrasie van onbeantwoorde vrae gevind in leë verhoudings en die druk van ‘n jong volwassene wees, het gelei laat ons van die paadjie wandel en (soos almal anders) foute maak. Min het ons geweet dat die foute wat ons maak, ons perfek vir mekaar sou maak. Perfek om mekaar se onsekerhede lief te hê, perfek om die ander se beter helfte te wees.
Op 2 Februarie 2024 was albei ‘n genooide van ‘n genooide vir ‘n Vrydagmiddag bier. Beide het hulself in ‘n moeilike tyd bevind. Niel het ‘n paar weke vroeër sy geliefde Oom aan die dood afgestaan en Antolize, wel sy het besluit om ‘n hele universiteitsloopbaan in haar vorige internjaar uit te leef (nou moes sy leer vir eksamen – One last Hoorrah!). Later daardie aand het hulle “perongeluk” langs mekaar opgeëindig. Antolize het stilletjies by haarself gesit en Niel het met haar begin praat. Net daar moes hulle weet dat hulle persoonlikhede mekaar alreeds begin aanvul het. Die aand was skielik die volgende oggend en hulle het steeds gesit en praat.
Die perongelukke aand het WhatsApp boodskappe geword en die WhatsApp boodskappe het Kerk-dates met Drivethru uitstappies na die tyd geword. Ten spyte van die baklei teen die gevoel, het hulle verlief geraak (iets wat hulle eers twee maande later sou erken). Hier raak dit gekompliseerd! Antolize was sterk oppad terug na haar familie in Welkom, en Niel het gesukkel om werk in Nelspruit te kry met die oorweging om weer oorsee te gaan werk. Met die inaggenome faktore, hoekom sou hulle gevoelens erken? Die Here se plan het tyd ingehaal en voor hulle weet was die eerste “Ek is lief vir jou" gedeel. Na knieë blou gebid was en harte soebat gesmeek was het Antolize besluit om in Nelspruit te bly en Niel het werk 40 minute van die dorp af gekry.
Die naweek van 17 Mei het Antolize vir Niel aan byna haar hele familie voorgestel (Ja, Niel was Welkom toe), hy het ingepas asof hy nog altyd daar hoort. Hy het voor almal vir haar “Elvis Presley – Can’t help falling in love” gesing. Na die optrede het sy op haar knieë met trane van dankbaarheid in haar hoërskoolbadkamer, hulle verhouding aan die Here opgedra.
Hulle was skaars twee maande terug in Nelspruit toe Niel die verlowing begin beplan. Die naweek van 10 Augustus 2024, het hy haar ouers vir haar hand gevra (nadat hulle mekaar eers vir die tweede keer sien – klokkeeee!). Hulle het natuurlik ja gesê, want hulle geluk was ooglopend groot. Dit was onvermybaar hoe hulle mekaar as mens laat groei en vorm het, hoe hulle mekaar verbeter en weer heel begin maak het. Teen die tyd is hulle ook trotse ouers van twee hondekinders - Simson en Delilah.
27 September 2024 – die dag van die groot vraag! ‘n Hele paar oepsies was gemaak voor die oomblik, maar Niel het Antolize gevra om virewig syne te wees. ‘n Vraag wat sy entoesiasties beantwoord het nog voor hy eintlik kans kon kry om te vra of die ring te wys! Twee pare bewerige hande het die ring opgesit en nou is dit tyd vir hulle om te trou en verder in geloof, geluk en liefde as een te groei!